“As ek eendag ophou droom”

Biografie

JUBA het ontstaan nadat Martiens in 2007 besef het dat ‘n mens jou talente nie onder ‘n maat-emmer mag bêre nie. Deur energieke en nostalgiese liedere te skryf, bring ‘n mens soveel vreugde na andere. Martiens skryf sprankelende liedjies wat in ‘n kits onder die vel inkruip.

Martiens is egter baie opgewonde oor JUBA se solo album ‘Pad na vrede’ wat 2017 op die rakke sal wees. 
Al bied die wêreld so baie buite die grense van Suid-Afrika, is Martiens erg patrioties en is hy bereid om sy deel by te dra tot ‘n beter land vir ons nageslag. Huidiglik is JUBA ‘n trotse Waterberger en “dit is ‘n voorreg om jou kinders op die platteland te kan grootmaak,” sê Martiens.

JUBA se bekendheid het ‘n groot hupstoot gekry in 2010. Bakbatboogie (voorheen deur Snotkop opgeneem) is met ‘n Tempo-toekenning bekroon en Veerboot in Parys – albei skeppings uit Martiens se pen – het die Angel Music Studio Productions liedjieskryfkompetisie op Facebook gewen. JUBA kan pop- en rockmusiek met ‘n volwasse kontemporêre-aanslag vermeng en boonop hoogs verslawende dansritmes en selfs ‘n moderne skeutjie boeremusiek bedrewe byeenbring.
“JUBA maak gesinsvriendelike musiek en daarby is ek in alles wat ek aanpak, positief,” vertel Martiens. Op Liewe Mandela sing hul immers: “Kan ons nie mekaar net respekteer, en bietjie-bietjie by mekaar ook leer. Staan net saam en hou op kla, ons vir jou Suid-Afrika!”

JUBA se musiek kan geensins in ‘n kassie geplaas word nie. Ballades en liedjies wat breëbors van ons sonnigeland, sy mense en hul lot vertel, nestel tussen die voetejeuk-deuntjies en selfs hartroerende juweeltjies soos Oupa met Martiens se dogter, Elné, wat jonk en oud se harte warmer sal laat klop.“Ek wil graag ‘n positiewe boodskap met substantiewe lirieke en mooi melodieë oordra aan enige iemand wat daarna luister,” verduidelik Martiens sy doel met sy musiek, wat vir hom ook nostalgie in ‘n ligte luim bied. So het Skop uit jou skoene ook weer veroorsaak dat Juba nog meer die land vol toer, want oud en jonk se voete jeuk sodra die snit op enige dansvloer gespeel word.

Martiens is ‘n liedjieskrywer van formaat en kan ook die trekklavier en klavier met oorgawe speel. Hy het in sy studente dae lekker sakgeld gemaak deur in koffiewinkels die mense te vermaak met sy talente. Wat min mense weet is dat Martiens ‘n kranige rugbyspeler en sportman was en is tans self nog baie aktief en betrokke by sport. Uit die lirieke van vele werke, kan ‘n mens aflei dat Martiens boerdery agtergrond het en so was hy ook ‘n voltydse boer tot en met 2013, waar hy in die Waterberge met skape en beeste geboer het. Al is die familieplaas verkoop, sal hy altyd streef om weer ‘n stukkie grond in die Waterberge te besit.

JUBA se musiek is tydloos wat hom nie aan tendense of kits-resepte steur nie. Dit is ‘n sit-rustig-agteroor-uitreiking wat uit alle musikale oorde bekoor. JUBA loop oor van  oorspronklikheid en het met hierdie versameling van albums bewys dat hy reeds van Afrikaans se blinkste sterre en is baie opgewonde oor die nuwe album ‘Pad na vrede’ wat binnekort beskikbaar gaan wees.

Kalender
December 2017
S M T W T F S
« Apr    
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  
Juba nuus via e-pos